Die invloed van saaityd op koring in 'n Mediterreense klimaat I. Fenologiese ontwikkeling

Original Articles

Die invloed van saaityd op koring in 'n Mediterreense klimaat I. Fenologiese ontwikkeling

DOI: 10.1080/02571862.1996.10634382
Author(s): J.W. Loubser Departement van Landbou: Wes-Kaap, Republiek van Suid-Afrika

Abstract

Koringkultivars se aanpassing word grootliks bepaal deur 'n gepaste fenologie en dit word sterk deur saaityd beïnvloed. Om verskille in opbrengs beter te kan verklaar, is kennis van die groeiduurtes van die verskillende ontwikkelingsfases van koring noodsaaklik. Min inligting oor die fenologie van koringkultivars is in Suid-Afrika vir verbouingsgebiede met 'n Mediterreense klimaat beskikbaar. Die lentekoringkultivars SST 25, Palmiet, Adam Tas en Chokka is in veldproewe op Elsenburg-, Langgewens- en Tygerhoekproefplase gesaai om die invloed van saaityd op drie voorantese groeifases, naamlik blaarvorming, aarvorming en aargroei van koring (Triticum aestivum L.) te ondersoek. Die proewe is in 1991 gesaai op vier verskillende saaidatums wat op Elsenburg en Tygerhoek drie weke en op Langgewens twee weke na mekaar gevolg het. Die gemiddelde duurtes van die blaarvorming-, aarvorming- en aarverlengingfases was onderskeidelik 36, 22 en 43 dae of 452, 262 en 541 daggrade. Die duurtes in aantal dae by die blaar- en aarvormingsfases het aanvanklik eers toegeneem met later saaitye en daarna weer afgeneem. Vir die aarvorming-, aarverlengingsperiode en die periode van saai tot antese, het die duurtes in daggrade verminder met later saaitye. Vir kultivars SST 25, Palmiet, Adam Tas en Chokka is die aantal daggrade wat tot antese nodig was met onderskeidelik 3.4, 4.0, 4.0 en 3.9 verlaag vir elke dag wat later gesaai is.

Get new issue alerts for South African Journal of Plant and Soil