Die verband tussen kontekstuele en buitetekstuele faktore en verbruikers se omgang met gewone taal

Research Article

Die verband tussen kontekstuele en buitetekstuele faktore en verbruikers se omgang met gewone taal

DOI: 10.2989/16073614.2024.2313070
Author(s): Johanna Maria Burger Stellenbosch University, South Africa

Abstract

Die doel van hierdie studie was om te bepaal hoe buitetekstuele en kontekstuele faktore die verstaanbaarheid, bruikbaarheid en ervaring van gewonetaaldokumente beïnvloed. Wat buitetekstuele faktore betref, is spesifiek na die verbruikers van gewonetaaldokumente se kwalifikasievlak, inkomste, huistaal, variëteit van Afrikaans en betrokkenheid by die dokument gekyk. Wat kontekstuele faktore betref, is mediese, finansiële en regskontekste bestudeer, aangesien gewone taal gereeld in hierdie kontekste gebruik word. In hierdie studie is 18 bestaande gewonetaaldokumente wat in dié drie kontekste voorkom, getoets. 'n Kwantitatiewe vraelys wat die verskillende veranderlikes gemeet het, is deur 506 respondente voltooi. Die studie dui aan dat daar nie 'n verhouding tussen die bruikbaarheid van ’n dokument en die konteks waarin die dokumente voorkom, is nie. As daar egter na verstaanbaarheid van ’n dokument en ervaring van die respondent met die dokument gekyk word, is daar wel ’n verhouding. In die studie het die mediese gewonetaaldokumente die beste gevaar. Wat buitetekstuele faktore betref, is daar nie 'n verhouding tussen bruikbaarheid en enige van die buitetekstuele faktore nie, maar is daar wel 'n verhouding tussen verstaanbaarheid en kwalifikasievlak, variëteit van Afrikaans en betrokkenheid. Wat ervaring betref, is daar 'n verhouding tussen hierdie veranderlike en kwalifikasievlak, huistaal en betrokkenheid. Toekomstige studies kan die aard van hierdie verhoudings verder bestudeer.

Get new issue alerts for Southern African Linguistics and Applied Language Studies